
Die projek Uitverkoop het begin as 'n klomp vriende wat in 2005 bymekaar gekom het om te kyk wat sou gebeur as hulle saam liedjies skryf. Met baie passie en ywer het hulle aan die werk gespring maar hulle het vinnig besef dis nog nie die regte tyd nie. Die Here wou eers 'n paar dinge in plek kry. So het hulle besluit om al hulle aandag en energie te fokus in die lokale gemeente. In hierdie proses het die Here stadig maar seker die lede van die "band" opgerig en het hulle 'n eenheid gevorm. Agter die skerms was God lankal besig om die liedjie skrywer op te rig en stadig maar seker het alles soos 'n legkaart in mekaar begin pas. Die Here het die visie gedeel om die Uitverkoop projek te begin en elkeen van die lede het in hierdie visie ingekoop.
Die inspirasie wat agter die liedjies van Uitverkoop is het begin toe die liedjie skrywer, Chardi, in 2006 haar eerste liedjie aan Retief Burger voorgelê het. Hy het haar aangemoedig om aan te hou skryf en daarop te fokus. Sy het dadelik aan die werk gespring om te begin skryf vir 'n 'worship album'. Hy het ook haar eerste liedjie genaamd "Ek weet dat U my liefhet" gebruik in sy Luidkeels Hersien-album. Daarna het sy besef dat God haar wil gebruik as liedjie skrywer en sy glo dat om aanbiddings materiaal vir gemeentes te skryf, haar roeping is. Sy sê dat God haar regtig geseën het met die vermoë om 'n liedjie in minder as 20 minute te kan skryf. Sy noem dit Hemelse inspirasie. Die temas van haar liedjies kry sy uit haar persoonlike verhouding en ervarings met God.
Die naam Uitverkoop is gebore uit die tema liedjie "Uitverkoop" wat op die CD/DVD verskyn. Die liedjie gaan oor God wat eerste in jou lewe is en dat jy totaal en al uitverkoop is aan Hom. Hulle sê hulle wil die boodskap van Paulus uit dra: 'Wees my navolger soos ek Christus navolg'
Die visie van Uitverkoop is dat elke Afrikaanse gemeente in die land die album sal kan gebruik om 'n generasie wat honger is vir aanbidding te kan bedien. Meeste van die liedjies op hierdie album word alreeds vanaf 2006 gesing, in die gemeente waar die lede van die Uitverkoop span geplant is. Die gemeente het 'n groot rol gespeel in die skryf van die liedjies en die ontstaan van die projek, juis omdat gemeentelede sterk aangemoedig word om God se plan vir hulle lewens te ontdek en te vervul. Hulle glo dat hierdie projek die begin is van baie groot dinge, wat 'n verskil gaan maak in die land.
Uitverkoop se lede is jonk en en vol lewe en kan maklik identifiseer met die alledaagse uitdagings wat mense vandag in die gesig staar. Die groep se ouderdom wissel van 20-35 en kan dus maklik hulleself met enige situasie assosieër.
Uitverkoop glo dat hulle musiek baie relevant en op datum is met wat God alreeds in ons land doen . Die groep is briljant om 'n nuwe liedjie wat die skrywer bring, te omskep in 'n boodskap wat die harte van mense roer.
Uitverkoop bestaan uit:
Chardi - Aanbiddingsleier/Liedjieskrywer
Reino - Vocal
Yolandè - Klavier/Vocal
Martin - Lead/Rythm
Marco - Lead/Rythm
Jacques - Akoestiese Kitaar
Joseph - Baskitaar
Pierre - Keyboard
Jimmy - Drummer
Al die lede van uitverkoop is opgewonde om te sien hoe God elke dag die droom vir hulle verder openbaar en vervul deur gewone mense te gebruik.